‘N FEES VIR ALMAL!

Cornelia Faasen

Verduidelik asseblief hoe kunstenaars te werk moet gaan as hulle aansoek wil doen om NATi se ondersteuning vir produksie te kry?

Dit wissel van jaar tot jaar.  Ons werk gedurig met nuwe siklusse en prosesse in samewerking en in konsultasie met die Feesteforum.  Vir 2021 werk ons met ’n oop aansoekproses vir die bedryf waar ons aansoeke direk ontvang en dit in gesprek met die Feesteforum ondersoek en bespreek.

Ons is egter altyd oop vir gesprek en nuwe idees met kunstenaars.  So selfs in die siklusse waar ons deur die feeste werk met aansoeke wat feeste ontvang of waar opdragwerke gedoen word; is ons altyd oop vir die moontlikheid dat daar iets nuut en vars op ons tafel beland wat nie noodwendig deur die formele prosesse gekom het nie.

Ons respekteer die feit dat kunstenaars nie altyd gebind kan word aan formele aansoekproses en tydlyne en strukture nie (dit is uiteraard geweldig belangrik om ook die roetines en beginsels toe te pas) maar ons wil graag hê dat die bedryf weet NATi is ’n organisasie wat kunstenaars respekteer en verstaan dat inspirasie nie ’n kraan is wat oop- en toegedraai kan word nie.  Dit is ook belangrik dat kunstenaars konstant reflekteer op ons onmmiddellike samelewing en in pas bly met die wêreld en huidige gebeure;  en dan moet ons prosesse vloeibaar wees om dit te kan akkommodeer.

Die kort en die lank is:  ons is altyd oop vir gesprek en aanbevelings en kritiek en daarom is dit belangrik dat mense in kontak bly met ons en ons webblad en sosiale media dophou vir aankondigings.  En, my deur is ook altyd oop vir gesprek.  My gunsteling-deel van my werk is die koppie koffie of glas wyn wat ek met kunstenaars deel by kunstefeeste om ons prosesse te verduidelik of nuwe idees aan te hoor.

NATi doen ongelooflike werk om vooruitgang in die vermaaklikheidsbedryf te waarborg. Watter NATi-projek het ‘n blywende indruk op jou gemaak?

Daar is werklik net te veel om te noem – elke projek bly mens by omdat jy dikwels ’n baie lang pad stap met die projek en die kunstenaar en die idee.  Daar is altyd goeie redes vir ons betrokkenheid by ’n bepaalde projek en idee of produksie (dikwels redes waarvan ander mense nie eers altyd bewus is nie) so selfs al is ’n produksie nie ’n kommersiële of kritiese sukses nie, bly mens altyd trots op die werk wat gedoen is want jy weet wat die redes was agter die keuse.  Soms doen ons dit ter wille van die idee, soms ter wille van die ontwikkelingsgeleenthede vir die kunstenaar, soms omdat ’n bepaalde fees ’n bepaalde produksie moet doen – daar is baie redes.  Maar niks word lukraak gekies of aangebied nie en daarom bly elke gesprek, elke produksie, elke idee, elke repetisieproses, elke eerste vertoning mens by.

Om een uit te sonder, sal wees soos om tussen jou kinders te kies.  Dis gewoon onmoontlik.

Wat motiveer julle by NATi  om tydens die staat van inperking positief te bly?

Wat ons motiveer is die wete dat ons kunstenaars in die land elk geval buite normale omstandighede en buite formele strukture werk.  Hierdie situasie gaan ons nie onderkry nie en ons sal nie gaan lê nie.  Ons is dalk tans in ’n vreemde soort hiatus; maar ons sal weer reg wees om aan te gaan wanneer daar weer feeste is.  En as daar nie feeste is nie, sal ons ander planne maak.  Ek het baie begrip vir kunstenaars wat nou verlam voel as gevolg van die vreemde omstandighede en dit is ook aanvaarbaar om so te voel.  Om aanlyn te werk, is nie vir almal bedoel nie.  En nie alle tipe werk is geskik daarvoor nie.

Maar ek voel ongelooflik bemoedig deur die nuwe idees wat na vore kom – ek word oorval deur versoeke van mense vir raad, aanmoediging, idees, klein bietjie befondsing hier en daar.  Almal hanteer die situasie verskillend – party mense dink nou idees en platvorms uit vir die onmmiddellike situasie, ander maak langtermyn-planne, ander skryf, ander rus, ander droom, ander gee aandag aan hul families (kunstenaars is gewoond aan ’n baie robuuste skedule en tyd saam met geliefdes is dikwels baie kosbaar).  En alle reaksies is geldig.  Ek werk soos ’n stoomtrein op die oomblik want dit hou my gefokus op wat voorlê en hoe ons gaan opstaan uit die situasie. Dit gee my hoop – dat daar ’n bedryf moet wees vir ons kunstenaars wanneer almal weer reg is om mekaar in die oë te kyk en ’n gehoor te omarm.

Na watter nuwe projekte en vennootskappe kan ons binnekort uitsien?

Daar is te veel om te noem:  ons het verskeie ysters in die vuur by ’n verskeidenheid van feeste:  Innibos digitaal, Vrystaat se Snelstroom-projek, Aardklop het ’n paar briljante idees waarmee hulle rondspeel op die oomblik, die Suidoosterfees loop oop oor van planne vir ’n verskeidenheid scenario’s, Woordfees se Skryflaboratorium is so opwindend (elke inskrywing is ’n prys werd) en natuurlik KKNK, NATi en die Baxter se Teksmark wat al so ’n belangrike instelling geword het.  Ek sien reikhalsend uit na Teksmark – dit is die oomblik aan die einde van die jaar waar ons kollektief as ’n gemeenskap saam asem uitblaas en weet ons het goed gedoen.  En die jaar gaan ons baie hê om te vier.  My versugting is dat ons dit fisiek kan doen in mekaar se teenwoordigheid, maar as ons nie kan nie, sal ons dit wel doen op ’n ander manier – maar daar sal ’n Teksmark wees.

Wou jy nog altyd eerder agter die skerms werk, of was jy ooit lus vir werk op die verhoog self?

Ek het op hoërskool al geweet ek wil agter die skerms werk (ek was vir ’n ruk oortuig ek gaan ’n regisseur word).  Maar, my sterk punt is nou maar eenmaal logistiek en beplanning en dit het ’n natuurlike verloop geneem dat ek in die administrasie en burokrasie van die kunste betrokke sou raak.  En ek is mal daaroor om mense se drome vlerke te gee.  Om gehore en idees uit te daag en om ’n rol te speel in die ontwikkeling van ons bedryf in ’n sisteem wat gesond en lewenskragtig is. En dit is presies wat NATi doen.