‘N FEES VIR ALMAL!

Vertel ons asseblief meer oor die rol wat jy in Queenie-hulle vertolk en watter uitdagings dit inhou.

Queenie is ’n vrou wat op die straat bly, sy bly met ander hawelose mense op die trappe van die Goodhope-sentrum in Kaapstad. In haar vorige lewe was Queenie Miss Spring Queen, maar as gevolg van omstandighede moes sy ’n lewe op die straat maak. Sy het ’n nuwe familie ontmoet en hulle woon saam op die trappe van die Goodhope-sentrum. Haar lewenservaringe maak van haar ’n baie sterk en wyse karakter. Sy is ook die moederfiguur van haar familie op straat.

Hierdie storie is belangrik om vertel te word, want dit help om ’n stem te gee vir die stemlose wat op die rand van ons samelewing leef, die mense wat nie gesien word nie en wat nie ’n stem het nie. Dit was ’n voorreg om met Christo Davids te werk, en ook om aan die teks te werk wat in die tagtigerjare begin het by sy oom, Lloyd Davids. Daar was baie weergawes van die produksie en toe Christo aan boord kom as medeskrywer, het die weergawe wat ons tans het, ontstaan.

Jare terug was ek en Christo reeds in gesprek oor die rol van Queenie, en ek het dadelik ingestem om dit te doen. Die Spring Queen-kompetisie is ’n baie belangrike geleentheid in ons kultuur. Die feit dat dit vanaf die Goodhope-sentrum na die buitewyke van die stad geskuif is, is nog ’n hartseer voorbeeld van gentrifikasie – en dit moet uitgelig word.

Die uitdagings van die rol, soos met enige ander rol in teater, is dat die akteur fiks en soepel moet wees, sodat jy ’n instrument kan wees vir die emosie wat die karakter voel. Navorsing was ook belangrik, maar om eerlik te wees, ek het nie nodig gehad om ver te gaan soek nie, want ons word daagliks met haweloses gekonfronteer. Ek het my hele lewe lank kontak met haweloses, en het selfs vriende met haweloses gemaak. Dus het ek hierdie verhale wat rondom my is, as voorbeelde gebruik om die karakter opreg te speel.

Wanneer mens met die teater te doen het, moet jy gefokus en fiks wees en genoeg rus kry. Kyk mooi na jouself, want dit is geestelik, emosioneel en liggaamlik veeleisend om vir 70 minute live op te tree.

Jy is betrokke by baie projekte in jou gemeenskap. Hoe voel jy oor wat tans in die wêreld aangaan en hoe skakel die storielyn van Queenie-hulle daarmee?

Wat nou in die wêreld aangaan is dat dinge na vore kom, want dit kon nie meer so aangaan nie. Ons het ’n nuwe normaal nodig, want ons samelewing kan nie voortgaan soos ons in verontagsaming van die natuur, ons planeet en mekaar leef nie.

Die kwessies van Black Lives Matter en rasissme wat ons in die gesig staar – it blows my mind dat ons steeds hieroor moet praat en dat dit nog so algemeen is, want dit bly een van ons grootste uitdagings. So, ons sal moet aanhou om daaroor te gesels, want ons is almal verantwoordelik daarvoor dat dit steeds in ons samelewing gebeur. Ons is almal daarvoor verantwoordelik dat daar hawelose mense aan die buitewyke van die samelewing woon, en ons almal het ’n verpligting om te help.

Mense wonder soms hoe hulle betrokke kan raak, maar dit kan eintlik so eenvoudig wees soos om met ’n brood in jou kar rond te ry, om met ’n care package rond te ry in jou kar, net om ’n bietjie uit die boks te dink en jouself in ander mense se skoene te plaas om te kyk hoe om te help. Dit dra alles by tot ’n beter lewe vir iemand anders. As daar iemand is wat vir jou werk, kan jy dalk ’n ekstra pakkie groceries koop wanneer jy inkopies doen, en dit vir hulle gee wanneer jy hulle salaris betaal, want die minimum wage is klaar nie veel nie en nou met inflasie voel almal die impak meer.

As mens rondkyk , sal julle sien daar is soveel plekke om by betrokke te raak om te help, jy het nie noodwendig nodig om na ’n NGO of liefdadigheid te gaan as dit jou intimideer nie. Jy kan net om jou kyk om te sien dat die geleentheid om te help voor jou is.

Wat gebeur alles tydens die pre-produksieproses?

Die teks word aan die akteurs gegee en dit word deurgelees sodat almal dit verstaan. Dit is ook goed om navorsing te doen, soos om met ander mense te praat, en mense dop te hou. Wanneer die geselskap volledig is, lees elke akteur sy karakter se woorde saam met die regisseur wat teenwoordig is. Die akteurs begin gesprekke voer oor wat hulle verstaan oor hul karakters, sowel as die produksie as geheel. Die regisseur deel sy notas en saam met die vervaardiger sy visie van die produksie met die akteurs. Elke akteur ontvang ’n skedule en tydlyn, en saam werk julle deur elke toneel.

Julle begin dan die produksie te block wanneer julle op die verhoog kom. Na elke repetisie gaan ons huis toe en gaan deur die notas wat deur die dag gegee is en oefen dit in. Dit word daagliks herhaal tot die produksie as geheel opgevoer kan word tydens repetisies.

Kleedrepetisies word saam met tegniese repetisies gehou. Die ligte word geplot, musiek en klank word bygevoeg en jy hou nooit op oefen nie. Die regisseur gee na elke repetisie notas en die akteur moet nie net by repetisies oefen nie, maar ook gereeld by die huis die notas deurgaan en inoefen.

Toneelspel is harde werk. Ek vra altyd vir jongmense wat met my kom praat en sê hulle wil akteurs wees: Wil jy ’n akteur wees of wil jy ’n celebrity wees? Daar is ’n groot verskil, want ’n akteur werk, werk deur die teks en werk by die huis en is okay met die feit dat hy elke aand moet speel, al is daar net 20 mense in die gehoor en niemand herken hom daar buite nie. Maar as sy werk ’n verskil maak, sal hy okay wees daarmee. ’n Celebrity wil openbare erkenning hê en beroemd wees, daar is ’n gróót verskil tussen die twee, so soms dink mense hulle wil akteurs wees, maar eintlik wil hulle celebrities wees.

Met watter gevoelens en emosies, dink jy, sal iemand gelaat word wanneer hulle Queenie-hulle gesien het?

Mense sal stil gaan sit en dink. Toe die produksie by Aardklop debuteer het, was die gehoor bewoë. Mense het in trane uitgestap en die geselskap kom bedank en laat weet dat hulle nog nie so na dinge gekyk het nie, en hul waardering vir die storie gewys.

Soos mens nou sien met COVID-19: life can happen to any of us. Mens se lewe kan in ’n oogwink verander en dit is belangrik om dit altyd te onthou wanneer jy met jou medemens interact. Onthou dit: jou lewe kan in ’n oogwink verander.

Don’t sit on a high horse, remain humble, remain kind and always think about others and what you can do to contribute. Ek dink dat ons vooruit sal gaan in hierdie samelewing as ons besef dat dit wat een persoon beïnvloed, ons almal beïnvloed. Ek dink dit is ’n baie bevoorregte posisie om in te sit as jy dink: oh, dit beïnvloed nie my nie.

Ons almal moet praat teen femicide in die land, ons moet almal praat teen die feit dat hawelose mense beboet word omdat hulle op die straat bly as gevolg van die wet wat ingekom het. Ons moet praat as iemand in ons samelewing sleg behandel word. Dit was ongelooflik om met die Queenie-hulle geselskap te werk. Ek kon nie vir ’n beter groep mense gevra het, om terug te keer na die verhoog nie. Ek is ook besonders dankbaar vir ons vervaardiger, Alexa Strachen en haar toewyding aan die werk. Ek sien uit na die dag wat ons die produksie op die planke.

As iemand ’n rolprent van jou lewe sou maak, watter akteur sou die rol van Jill vertolk?

Dit is ’n moeilike een, want daar is soveel goeie en interessante jong, opkomende akteurs wat goeie werk doen. Maar as ek ’n paar kan noem, sal dit Nicole Fortuin, Bianca Flanders, Rushney Ferguson, Alexis Pietersen of Ann Juries-May wees.