‘N FEES VIR ALMAL!

Suidoosterfees het opgevang met Anroux Marais,
Wes-Kaapse LUR vir Sport en Kultuur.

1. Suidooster-Kuier-Swaai vind saans tydens die fees plaas. Elke aand is daar ’n ander genre en ’n ander Suidooster-akteur wat saam met feesgangers dans, met groot pryse op die spel. Met jou agtergrond in ballet, kan die feesgangers daarna uitsien om jou ook by die swaai raak te dans?
Dit sal heerlik wees om saam met al die Suidoosterfees en teaterliefhebbers te dans en te swaai. Veral in die lig daarvan dat ons saam die post-COVID-19 tyd kan inswaai.

2. Jy is ’n gekwalifiseerde arbeidsterapeut – hoe sien jy die waarde van kunsterapie? Het jy voorstelle oor hoe kunsterapie van nut kan wees tydens vlak 3 van die inperking?
Kuns is ’n kreatiewe manier waardeur ons ons innerlike gevoelens kan weergee. Kuns is ’n emosionele belewenis, wakker innovering aan, en verbeelding word vrye teuels gegee. Gevoelens van angs, onsekerheid en moedeloosheid kan hokgeslaan word deur die beoefening van enige kunsaktiwiteit. Kuns neem verskeie vorme aan: skilder, beeldhouwerk, collages. Daar is so baie verskillende maniere waarop ons en ons kinders kuns kan beoefen. Kinders is uitstekend met klei, potlode, verf en papier, en enige voorwerp uit die natuur of selfs ’n tuin. Doen vingerverf, vorm figure met klei en speel met kleur. Jy hoef nie professioneel te wees om deel te neem nie. Gee jou verbeelding vrye teuels en geniet!

3. Hoe dink jy kan ons met aanlyn platforms die Wes-Kaap se diverse kultuurgoedere uitbou en bevorder?
Tydens die grendelstaat het ons kulturele gemeenskap hulleself op elke moontlike manier bemark en ons met vreugde vervul, en dit alles op sosiale media. Weereens het ek besef hoe ons diversiteit ons saambind en hoe ons mekaar waardeer en respekteer. Ons uniekheid lê juis daarin dat ons as Suid-Afrikaners werklik ryk is aan kultuur – kultuur wat lewendig en interessant is.

4. Wat is jou boodskap aan Suidoosterfees-kunstenaars in hierdie tyd?
Die geskiedenis leer ons dat die kunste en kultuursake tydens die talle uitdagings wat nasies en die mensdom al beleef het, altyd ’n gedeelde geleentheid was wat uiteindelik hoop en motivering gebring het. Dis hierdie geleenthede wat ons aangespoor het om ons gemeenskaplike doelwitte te bereik om saam die periodes van swaarkry te deurstaan. Ons gaan saam deelneem aan aktiwiteite – jubel, dans, sing, optree en op emosionele vlak by mekaar aanklank vind, met ons trots Suid-Afrikaanse veerkragtigheid.