‘N FEES VIR ALMAL!

Foto: Stefan Erasmus

Drie vrae aan Philip Rademeyer oor Opdrifsel.

1. Waar kom jou inspirasie vir Opdrifsel vandaan?

Ek is deur NATi genader om ‘n teks te skryf oor ouers wat ‘n kind deur selfdood verloor. Ek het navorsing gedoen oor die rouproses, en natuurlik ook gedink aan voorbeelde in my eie lewe waar dieselfde emosies voorgekom het. Die rouproses self het my nog altyd gefassineer – baie van my werk handel oor verlies – en ek het besluit om rou nie net die oorhoofse tema van die stuk te maak nie, maar ook die dryfveer vir die aksie in die toneel. Dit gaan dus oor hoe die rouproses ‘n egpaar se verhouding kan beïnvloed. Daar is geen “bloudruk” vir rou nie, dit is vir elke mens ‘n unieke, individuele proses en almal kry hul eie manier om verlies te hanteer. In ‘n verhouding is die rouproses dikwels nie dieselfde vir die twee ouers nie, en dit is dus wat die verhouding onder druk plaas. Verder worstel die stuk met die idee dat die ouers nie weet waarom hul kind oorlede is nie – iets waarmee baie mense sukkel na ‘n familielid se selfdood – en dit is dus ook ‘n belangrike element in die stuk.

2. Hoe verskil hierdie teks van ander werk wat jy al opgelewer het?

Ek dink hierdie is waarskynlik die mees intieme en emosie-gedrewe stuk wat ek nog ooit geskryf het. Dit is as gevolg van die tema en die situasie self – ek kon nie ‘n stuk oor die verlies van ‘n kind skryf sonder om die wye reeks emosies wat daarmee gepaardgaan, in te skryf nie. Gewoonlik laat ek emosies aan die regie-proses en die akteurs oor, maar hier is dit deel van die teks self. Ek het ook nog nooit ‘n stuk geskryf oor ‘n tradisionele “nuclear” family – pa, ma en kind – nie. Verder speel ek ook in Opdrifsel met struktuur op ‘n manier wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie.

3. Verduidelik vir ons die proses waardeur jy gaan wanneer jy met ’n idee opkom vir ’n nuwe stuk?
Die skryfproses is vir my altyd ‘n kombinasie van navorsing, verbeelding en self-ontginning. Wanneer ek ‘n nuwe idee kry vir ‘n stuk, skryf ek gewoonlik so gou as moontlik die los gedagtes neer, sodat hulle nie êrens in my kop verlore raak nie! Daarna begin ek los stukke dialoog of monoloë te skryf, om die eerste impulse en idees uit te kry. Ek dink nog glad nie aan struktuur of die storielyn as geheel nie, dis ‘n tipe van “freewriting” om idees op papier te kry en my verbeelding te stimuleer. Hierdie skryfwerk is gewoonlik baie persoonlik soos ek my eie emosies verken.

Daarna doen ek navorsing oor die spesifieke onderwerp en temas, veral as dit oor onderwerpe/ervarings gaan waardeur ek nie al self is nie. Dis belangrik om ‘n storie te kontekstualiseer en in ‘n sielkundige werklikheid te plaas. Baie keer kom spesifieke storie idees ook uit die navorsing uit. Na die navorsing, werk ek gewoonlik aan “plot” (intrige) en struktuur. Wat gebeur, wat dryf die storie vorentoe, wat is die dramatiese aksie? In watter orde moet hierdie dinge gebeur?

Dan begin die móéilike skryfwerk – om al die gapings in te vul, en om die stuk se orde van aksie/gevolg (action en consequence) reg te kry. Ek het gewoonlik reg van die begin af ‘n idee van hoe die stuk moet eindig, so die skryfproses is basies ‘n manier om die karakters van die begin tot die einde te kry, op ‘n manier wat logies en sielkundig sin maak en wat “justified” is.