‘N FEES VIR ALMAL!

Vyf belowende liriekskrywers is gekeur om deel te neem aan die Suidoosterfees en Jakes Gerwel Stigting se mentorskapprogram vir jong, opkomende liedskrywers. Hulle is Breyten Treurnicht, Brumelda Bell, Gabriel Plaatjies, Naaim Briesies en Nicol Klopper.

Dié vyf se talent sal onder die wakende oog van Frazer Barry, voorsanger van Tribal Echo, geslyp word. Barry het sy merk gemaak as musikant en skrywer. Hy het ook die klankbaan geskep vir Krotoa: Eva van die Kaap.

Die metorskapprogram, wat deel uitmaak van die Suidoosterfees se Talentsoektog-projek, fokus op liriekskrywers en sangers wat oorspronklike liedjies in Afrikaans, Engels of isiXhosa skep. ’n Paneel van onafhanklike kundiges het die kandidate uit ’n groot aantal inskrywings gekeur.

Kandidate sal oor ’n tydperk van drie weke in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet-skrywershuis op Somerset-Oos tuisgaan waar hulle gementorskap sal word. Die Stigting se strewe met dié projek is om skrywerstalent in die breedste sin te bevorder, en om nuwe stemme ’n vastrapplek in die vermaaklikheidsbedryf te gee.

Die jong skrywers sal nie net leiding ontvang in die skep en herskryf van lirieke nie; hulle kry ook die geleentheid om saam met Frazer Barry aan ’n produksie te werk wat in 2021 by die Suidoosterfees sal debuteer. Uiteenlopende aspekte van die vermaaklikheidsbedryf, onder meer hoe om ’n loopbaan op die been te bring, ’n album op te neem, netwerke te verbreed en ’n nis in die mark te vind, sal tydens die residensie aangespreek word.

Jana Hattingh, die Suidoosterfees se uitvoerende hoof, sê dat ontwikkelingsinisiatiewe belangrik vir die fees is. “Sinergie met die Jakes Gerwel Stigting stel ons in staat om projekte soos hierdie van stapel te stuur. Ons glo die program verskaf ’n waardevolle spreekbuis vir nuwe jong stemme. Ons sien uit na die debuutwerk wat die projek gaan oplewer.”

“Dit is vir die Jakes Gerwel Stigting belangrik om in die ontwikkeling van jong talent te belê,” sê Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting. “Met hierdie mentorskapprogram saam met die Suidoosterfees is ons opgewonde om liriekskryf as genre by ons pakket van ontwikkelingsprogramme te kan voeg.”