‘N FEES VIR ALMAL!

Was die pad wat jy saam met ons jong sterre gestap het inspirerend?
Tot dusver was die pad nie net met rose besaai nie. Daar is natuurlik die spreekwoordelike vuurtjie wat uitgesit moet word. En dankie tog vir die vuurtjie of drie, anders is daar geen inspirasie of verryking nie. En, wat is dan jou plig as mentor, as jy nie kan help om ‘n vuurtjie te blus nie? Die NAti Jong Sterre is hul titels werd: hulle is ware jong sterre. Hulle inspireer mens deur hul passie en toewyding…en natuurlik hul talent. Voor die lockdown was almal vuurig besig met hul voorbereidings en daar was tye wat ek amper oorbodig begin voel het. Maar, selfs met die huidige eienaardige omstandighede, is hulle besig om hul tekste te edit en “aan te kap” soos hulle op ‘n minibus taxis sou sê. Hulle is passievol en krities en al vyf van hulle het verskillende benaderings tot hul werk en natuurlik kom elkeen met ‘n unieke artistieke persoonlikheid. Teen hierdie tyd moet mens weet hoe om met elkeen te werk om die beste uit hulle te kry. En, uitdagend soos dit soms is, is dit ook baie verrykend.

Kry jy ooit skrywersblok en hoe hanteer jy dit?
Skrywerblok? Bestaan daar regtig so iets? Ha…ha…in alle erns, los ek skrywersblok in die hande van die heelal, regtig! Ek skryf – veral nou – soveel soos ek kan. En as ek ‘n “blok” ervaar, dan los ek daai teks vir ‘n wyle en keer terug wanneer ek weer “lus” het daarvoor; of, ek stap weg en keer eers terug na ek genoeg afstand tussen my en die teks gesit het en amper daarvan vergeet het, soos ‘n mens vir iets soek en dit eers vind wanneer jy nie daarvoor soek nie. Of, soms is daar ‘n oplewing van idees in die middel van die nag (of dag) – wat van nêrens af kom nie – en dan is die sluise maar weer oop. Ek sit met talle onvoltooide werke en tonne notas op die komper en storie idees op my foon en kriebels in notaboekies langs my bed en op my lessenaar.

Wat is die grootste fout wat jy al in jou loopbaan gemaak het, en wat het jy daaruit geleer?
Fout? Bedoel jy nie foute nie? Ek weet darem nie van een fout wat so groot was dat dit my lewe of loopbaan onuitwisbaar beskadig het nie. En, so clichéd soos dit mag klink, is ons wel die somtotaal van al die keuses wat ons maak in ons lewens – die goeies en slegtes. En hier is nog ‘n waarheid: foute is maar net ‘n vorm van navorsing. So, ek leer nou nog – van almal wat my pad kruis. Mens gee mos alles en almal ‘n kans soos ‘n aspoestertjie en haar glasskoen om te kyk wat mooi by jou pas.

Wat wou jy word toe jy klein was, of was die vermaaklikheidsbedryf van die begin af in jou bloed?
Klein? Ek kan nie ‘n tyd onthou wat ek ooit “klein” was nie. Ek was maar altyd net ek – asof ek net die ander dag gebore was. Ek weet nie, maak dit sin? Ek onthou dat ek gou verveeld geraak het met speletjies – wou altyd alles speel! En as ek eers van iets gehou het, het ek probeer om dit tot die beste van my vermoë te doen en vir solank as wat ek kan. My hele loopbaan as volwassene was tot dusver ook so, waar ek probeer so ver ek kan om gelukkig te wees met my werkkeuses. Ek het gewissel van onderwyser tot dosent en van opvoedkundige bestuur tot joernalistiek. En ek wens ek kon sê ek wou altyd ‘n dramaturg of ‘n regisseur of ‘n mentor of, of…gewees het. Ek was maar altyd versot op die teater en meer geleer en gelees en gaan kyk en nog geleer – sover ek kon. Ek weet net dit: omdat ek 100% vryskut vir die afgelope 14 jaar was (en is) die vermaaklikheidswêreld altyd óf in die drywersitplek of net langsaan in die passasier s’n.

Vertel ons asb. van jou passie vir hierdie projek en hoekom dit jou na aan die hart lê.
Die Jong Sterre projek is enig in sy soort. Dis iets wat net goed doen: om jong en nuwe stemme die kans te gee om hul stories met mentors te ontwikkel en op die planke te bring. Ek onthou toe ek nog tiener was en stories probeer skryf het – stories en gedigte wat vir jare in my kas gebêre was omdat ek geen selfvertroue gehad het om dit te deel nie, of omdat daar eenvoudig geen geleenthede was nie. Dan kom NAti en die Jakes Gerwel-Stigting en Suidoosterfees en sê vir jong mense: skryf julle stories en stuur dit na ons en wie weet, dalk kies ons jou en jou werk vir ontwikkeling, met ‘n skrywersmentorskap, ‘n volledige bladsy-tot-verhoog mentorskap en ‘n debuutspeelvak. En al wat jy moet doen is om op jou teks te fokus en ‘n passie te het om te wil leer – iets wat ek met ope arms sou gegryp het as ek jonk was. Dis so te sê om die teaterlotto te wen. Wie sou nie dit na-aan jou hart wil hê nie?