‘N FEES VIR ALMAL!

Deon Meyer en Coenie de Villiers se gewilde Karoo Suite-produksies word beskryf as die “mooiste liefdesbrief aan die Karoo”. Dié tweeluik – Karoo Suite en Karoo Suite 2: Karoonagte – is op 10, 12 en 13 Desember vir Kapenaars by Atlantic Studios se inryteater beskore. Albei produksies word elke aand ten bate van die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting se liriekskryf-mentorskapprogram aangebied. Dis ‘n double feature soos in die intryteaters van ouds, kompleet met ‘n pouse vir burgers en melkskommels.

Die supergewilde skrywer vertel self die stories op die verhoog, terwyl die legendariese De Villiers saam met ’n orkes vir musikale begeleiding sorg. Die aanbieding word aangevul met lieflike foto’s en video-materiaal van die Karoo-landskap deur die National Geographic-span, NASA, Deon Meyer self, asook animasiewerk deur Diek Grobler.

Meyer en De Villiers se talente sorg vir ’n gedugte kombinasie. Karoo Suite het gehore by verskeie feeste en teaters in vervoering gehad, en het daarna landswyd uitverkoop. Die nuwe Karoo Suite 2: Karoonagte word rug-aan-rug met die eerste produksie by hierdie geleentheid aangebied.

Die produksies bestaan uit verskeie bewegings waarin die landskap van die Karoo, sy mense en hul vreugdes en pyn op hartroerende wyse verken word. Die musikale span sluit van die land se bestes in: Mauritz Lotz op kitare, Jaconell Mouton op klawers, David Klassen op tromme en perkussie en Coenie self agter die klavier. Deon Meyer is die verteller op die verhoog.

Vir die Kaapse aanbieding van die produksies het Meyer en De Villiers hande gevat met Atlantic Studios, Suidoosterfees, KKNK, die Jakes Gerwel Stigting en CTMA. Die Suidoosterfees, wat vroeër vanjaar uitgestel moes word as gevolg van die Covid-19-pandemie, het onlangs ’n verkorte program in ’n splinternuwe baadjie by Atlantic Studios se inryteater begin aanbied.

Vir die Desember-vertonings is kaartjies by Computicket beskikbaar teen R400 per motor (met tot vier insittendes). Dit beteken jy kan ‘n Karoo Suite-produksie vir so min as R 50 per persoon sien. Daar is slegs 40 BBP-kaartjies per aand teen R300 per persoon beskikbaar vir binne die Atlantic-ateljees.

Deon Meyer en Coenie de Villiers beywer hulle lank reeds vir die ontwikkeling van jongmense met potensiaal. Hulle eerste produksie kon – in samewerking met die Atterbury Trust – bykans ‘n miljoen rand skenk aan leerders in die Karoo. Die opbrengs van hierdie kaartjieverkope sal aangewend word om die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting se liriekskryf-mentorskapprogram uit te brei met werkswinkels wat voortaan ook in die Karoo en Kaapstad aangebied sal word. As deel van dié ontwikkelingsprogram kry liriekskrywers die geleentheid om by die Suidoosterfees en KKNK op te tree.

Kaartjies by Computicket – KLIK HIER.